Saturday, 2 February 2013

Voorstedelike trein

Voorstedelike trein

ons klik-klik
dampend die daeraad in
die nagdou glip nog in koel straaltjies
teen die taai treinruit af
op stasies soek passasiers
skuiling teen die kilte
van die oggendwind
en as deure oopskuif
outomaties
vul sitplekke vinnig
en gesprekke begin vlot
ek merk onderlangs
vlugtige oogkontak
‘n afwykende kyk
stiltes en swye
stiltetye
passasiers sit
kouend aan brokkies ontbyt
rokend in rook verbode
gapend
slapend
lesend aan graffiti teen die duikwegmuur
waens glip verby
geel-en-grys
geel-en-grys geel-en-grys
langs die spoor strek die teerpad
blinknat
ligte flonker flouerig aan lamppale
in die mistigheid
sien ek dofweg
grasdak-kothuisies hurk
styf teenmekaar
sterk-stam Pierneef-denne
trotseer die wind
wat skuins oor waai
in Kuilsrivier-kanaal lê rommelgoed
soos vomeersel uitgespoeg
maar word genadiglik afgewissel
met vleie vol spierwit aronskelk
en ry op ry bot
jong wingerd reeds
‘n treinglipper uit die derdeklas
met kopdoek en sweetpakbroek
staan met plastieksak en druppende sambreel
naby aan die deur
reg om uit te spring
as die inspekteur in sy rigting kom
tussen stasies
merk ek
plakkerskamp op plakkerskamp
en bejammer die begrafnisbeeste
by Thornton lê die grafte ry op ry
kilometers aaneen
Christen Jood en Moslem
tog wel apart
gesegregeer
maar lankal stokstyf dood
tussen stasies
trek ek my serpie stywer
hoër oor my oë op
tyd om weg te sink
terug in myself
dis tyd
vir kommerkrale rol
‘n wolkbank hang vanmôre
laag teen die skuinste van Tafelberg
aan verwaarloosde skrootwerwe
herken ek Kaapstad
ook maar net nog ‘n stad
met Goliat-geleiers
vuil fabrieksterrein
‘n slagveld van gesneuwelde plastiek
vasgewaai en vermink
teen skerp palmtakspeke
en heinings van doringdraad
wat ironies genoeg
ander euwels
moet uithou
dan spoeg die trein ons uit op Kaapstad-stasie
en begin ons skarreling
soos vliegmiere
na die naaste lig
 
 
 
 
 
 
 
 
 

No comments:

Post a Comment