Thursday, 31 January 2013

'n Kaapse Draai

‘n Kaapse draai

padlangs
dryf waterblommetjies
op die spieëlvlak van ‘n stil plaasdam
die naaste reeks vouberge kaats
vol diep misterie
donkerpers
na ons toe terug
grys troppies volstruis
wei kol-kol
koponderstebo
teen die Overbergse heuwelhelling
en landerye
met geel en goud
olyf
bruin en groen
vorm ongekunsteld
landelik ‘n lappieskombers
soos reguit rye voetsoldaat
peloton op peloton
aangetree
staan wingerdstok
gereed
vir die somer se bevel
om te bot en vrug te dra
en in laat-lente boorde
pronk appelbome
in bloeiselblom en groen
getooi soos ballerinas
wat strek
en uitreik na mekaar
dan draai ons iewers af
na dié opstal
of daardie padstal
en proe op die tong
die genot van fynbos-heuning
‘n soetrooi muskadel
‘n sappigsout olyf
ons erfenis
ons smaak
die hout in Chardonnay
en ons voel hoe vars spoel
Môreson
Rust & Vreugde
Weltevrede
oor ons gemoed

Soetigheid

Soetigheid

mooi dae
smelt soet en ryk
op die tong
troetel dit
soos stukkies donkersjokola
skerfies soet
van ‘n outydse paaseier
uit my kleintyd
en vou
wat mag oorbly
versigtig
liefdevol toe
in blinkpapier
gebêre vir
môre se stil tyd

Veldblomfees

Veldblomfees

dis weer veldblom-reünie
‘n September-saamtrek
dis tyd vir herontmoeting
op klippiesveld en duin
tussen klipskeur en vlei
speel die bobbejaantjies
kalkoentjies
feëklokkies en bruidsrosies
hartediefies
wegkruipertjie en aspaai
skilpadjies en jakkalsklossies
kruip skelmpies
skugter weg
koekeloer vrypostig vir die son
kompeterend
fassinerend
kom saam
kom ons fantaseer
op die veld vandag

Kontrei

Kontrei
mmm
ek proe die see
in die geelstert
en glasuur kwistig
my porsie roostersnoek
met suurlemoen en appelkooskonfyt
daar’s bykos van
hotnotskool uit die kontrei
kerrieperskes en soetpatat
‘n dik sny bruinbrood met moskonfyt
en vir die laaste gaatjie nog
kraak ek
sappigsoet
‘n vet koesister

Kiewiet

Kiewiet
 
jy verwilder my
venynig
met jou kamikaze-swiep
en skel
skerp
skril
as ek te naby kom
is dit omdat jy hinkbeen
seer
en alleen is
of omdat jy jou klein terrein
wil koester en beskerm
dat jy bedreigd voel
en vrees
ek trap jou hoop op oorlewing
stukkend
of omdat jou wêreld
net swart en wit is
en myne
in kleur