Saturday, 16 February 2013

Pikkewyn

Pikkewyn

nonnetjies
wiegelwaggel sedig langsmekaar
koppe saam in skindergesprek
‘n monnik mediteer
sedig
onder ‘n koeltestruik
donstieners
nog pik nog wyn
soek onseker na ‘n staanplek
in die son
viswinners duik
vlugvinnig
blinkend
tussen flarde seebamboes
en eenkant lê
‘n uitskop-eier

as dit snags buite kriek...

as dit snags buite kriek....

in die donkerte
wat stil om my vou
lê ek toe-oog
en luister na my siel
woorde begin blom
en tros saam in versies
wat ek soos blou forget-me-nots
moet pluk
en droogpers
op papier
 

Mis

Mis

die digte oggendmis
lê vanoggend
vlak
by my voordeur
ek hoor iewers naby
die tarentaal se skel

ek ruik die spoor
van die ebgety
niks
is sig- of tasbaar nie
maar ek weet
teen tienuur sal die son weer skyn
ek sal weer alles
duidelik
onderskei

Naggeluide

Naggeluide

dis halfdrie na middernag
iewers in die huis tik
die horlosie
eentonig ure af
‘n deur ratel liggies teen die kosyn
en die windklok klingel
sy eie melodie
voor by die deur
in die nagtuin vlak by my venster
kriek twee amoreuse krieke
in morsekode
hul liefde vir mekaar
en voor op die strandduin
skel ‘n kiewiet
onthuts
op sy nagtelike terrein
‘n nagmot klap-klap teen die straatlig vas
veraf ruis die see
soos in ‘n skulp hier dig teen my oor
‘n hond in die township
blaf aanhoudend
en die blitspatrollie-sirene
skrei deur die nagstilte
op die deurpad verby
dan is dit dagbreek
en die muezzin roep
Allah

Vaalvink

Vaalvink
geelvink speelvink
vlytig vlegtend
vryvink
gretig
afwagtend
vaalvink vrouvink
pluk onvergenoegd
weer alles uitmekaar
laat triomfantelik
elke grassie takkie blaar
fladder na
benee
 

Kiewiet

Kiewiet
 
jy verwilder my
venynig
met jou kamikaze-swiep
en skel
skerp
skril
as ek te naby kom

is dit omdat jy hinkbeen
seer
en alleen is
of omdat jy jou klein terrein
wil koester en beskerm

dalk voel jy bedreig
en vrees
ek trap jou hoop en drome
stukkend
of is dit bloot
omdat jou wêreld swart en wit is
en myne in kleur

Vlieër

Vlieër

in die lokval van die wind
dans en tol my vlieër
grynslaggend
uitdagend met swiepende stert
hoog
bokant ons klein stippels op die strand
dan ruk hy moedswillig
uit protes
aan sy dubbelanker
wil hoër
sterker
verder
op die wind
in triomfantelike vlug
tot die verste draai
wanneer droom
weer terugswenk
tot realiteit
en wanneer ek hom dan
afwaarts
terugtrek
teen die speling van die wind
en netjies inkatrol
swig hy
vlak
by die ystervoete van my rystoel