Saturday, 2 February 2013

Somer innie Kaap

Somer innie Kaap

‘n suidoos heraldeer
die aantree van die somer
aromas van varsgesnyde gras
en die soutbries van die see
prikkel my neus
voor my lê die see
saggroen en wit vandag
en om die Kom vou berge
deinsigblou
‘n kroos van vyftien tarentaaltjies
skarrel en skrop in my voortuin
en kies dan koers
na skuiling in die melkhoutbos
in die verbyry
op pad na die Eikestad
merk ek
‘n skaar aarbeiplukkers gebukkend op ‘n ry
tussen voëlverskrikkers
en by Bitterbessie-kwekery se afdraaipad
kreun ‘n trokvol blomme
kleurvol die grootpad in
pretdag-drawwers
sukkel swetend
op- en afdraand uit
gespikkelde bosduiwe wei
tussen soetigheid
wat die pers jakaranda
mildelik uitstort
in Stellenbosch se Van Riebeeckstraat
tannies met wandelstokke
toeriste en studente
stap langs koel eikelanings
ek hoor Adeste Fideles
sag in die agtergrond
by die gemeentelike kersmark
kies ek uit rakke vol talent
‘n engel van fynbos
vir die eerste kersboom
van ons kleinkinnerkind

No comments:

Post a Comment