Padlangs
’n wolkedons omvou die Helderberg
vanoggend rosig sag
dan skielik skerpglinsterend
groet die môreson
as hy uitloer
oor die heuwel
langs die wynlandpad
pryk wynlandgoed trots
Stonewall
Sweetwell
Rust en Vreugd
Nietvoorbij
en
Avontuur
mý avontuur padlangs het begin
’n komposhoop
lê dampend in die môrekilte
en ry op ry gesnoeide wingerd
staan reeds hoopvol klaar
’n spogperd pronkgalop
en winkelpop-voëlverskrikkers
pas die aarbei op
langs die leivoor
in Eikestad
dartel bruin akkerblare
ritselend
om my enkels
in ’n laaste dans
en gly dan liggies leivoor langs
na êrens
vanaf die gewelhoek bespied
’n bosduif my skuinskop
koergroet
en skud sy vere reg
halfpad Helshoogte uit
teen die hang
ontdek ek die bessieplaas
jy word uitgenooi
daar’s bessies om te proe
kom kies en keur
ook druif
amandel en olyf
padlangs
suidwaarts terug
lê blou teen blou
’n sonnighelder Valsbaai
en Hottentotsholland sagkens toegevou
in ‘n wolkekraag
ai
ek tel my seëninge een vir een
No comments:
Post a Comment